Quantcast
Channel: Kuns - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 188

Persverklaring: KKNK 2022 visuele kunsuitstalling nou aanlyn beskikbaar

$
0
0

 Kunsliefhebbers vir wie besigtiging van die visuele kunsuitstallings nie beskore was tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) van 2022 nie, kry nou die geleentheid om dié veelbesproke werke van wêreldklaskunstenaars aanlyn op hul rekenaar of selfoon te sien te kry met ’n 3D virtuele galery.

Die skakel na die virtuele galery is beskikbaar by: https://kknk2022.kknk.co.za/virtuele-galery/.

Die derde KKNK virtuele galery neem kunsliefhebbers deur al die vertrekke van die Prince Vintcent-gebou in Oudtshoorn, waar die KKNK 2022 visuele kuns uitgestal is. Die virtuele galery is nou aanlyn beskikbaar tot Sondag 5 Junie 2022. Nes die KKNK se virtuele galery van 2021, is hierdie toer gebruikersvriendelik.

“Die afgelope twee jaar het die KKNK groot sukses gehad met die virtuele galery. Tydens die pandemie was dit nie moontlik om kunsgalerye te besoek nie, en die KKNK was trots om tog in hierdie tyd ’n geleentheid aan kunstenaars te kon skep om hulle werke uit te stal en ook aan kunsliefhebbers ’n geleentheid te kon bied om steeds kuns te waardeer en aan te skaf,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. 

“Die vorige twee virtuele galerye het ook belangstelling van oor die wêreld heen gelok en van die kunswerke is ook deur oorsese kliënte aangeskaf. Noudat ons weer tydens die KKNK uitstallings in Oudtshoorn kon aanbied, het ons ook die waarde daarvan besef om die kunstenaars en werke nie nét aan die Suid-Afrikaanse publiek wat nie die fees kon bywoon nie, beskikbaar te stel, maar ook aan kunsliefhebbers die wêreld oor.”

Dineke van der Walt, die KKNK se visuele kunskurator, sê sy verstaan dat baie mense om verskeie redes nie fisies die fees in Oudtshoorn kon besoek en al die aanbiedinge kon geniet nie, maar dat die kunsuitstallings steeds baie gewild en deurlopend wel besigtig is. 

“Sedert die fees die Dinsdag [29 Maart] geopen het, was daar reeds baie besoekers. ’n Kollega het genoem hy het nog nooit so ’n toeloop van mense gesien nie! Teen die Saterdag was daar weer netso baie besoekers. Ons het geëindig met ’n groter groep mense as waarmee ons begin het – soos jy loop het daar net mense bygekom.”

Elke aanlyn uitstalling word vergesel van ’n kort beskrywing van die uitstalling wat agtergrond en konteks oor die werk verskaf. Belangstellendes word ook bederf met vier kort bonus-video’s: ’n dokumentêr deur Lieza Louw oor die skeppingsproses van Karin Preller; ’n vorderingsvideo van die ReWOLusie-hekelkunsprojek wat Mary Sibande se 2010-werk, Her Majesty Queen Sophie, uitbeeld; Henrietta Scholtz se Life and Time in Place; en Cloud Migration van Phumlani Ntuli.

Van der Walt vertel die gratis kinder-kunsvermaak was ook baie gewild: “Daar was in een stadium meer as 17 kinders in een uur wat aan die kinder-kunsprogram deelgeneem het! Ons het tafels en stoele uitgepak en dit was wonderlik dat daar ook kinders was wat nie regtig kuns ken nie, want dit was ’n wonderlike geleentheid om hulle aan kuns voor te stel – hierdie soort werk met hulle is ewigheidswerk.”

Van die werk wat in die aanlyn galery besigtig kan word, sluit in die werke van Mary Sibande, Nkhensani Rihlampfu en Gregg Price; die gewilde Oudtshoorn-projek Karoo Kaarte, Prestik and Paper, asook versamelings uit die Absa-kunsgalery; daar is ook werk deur Dirk Bahmann en Wayne Matthews, groepsuitstallings soos Rich in Fibre, en Liewe Land! II – wat onlangs die Fiëstaprys vir kuns gewen het – albei laasgenoemdes onder kuratorskap van Van der Walt. 

Die werk van Karin Preller word vertoon, en daar  is selfs ’n mos-kunswerk deur die tuinboukundige Marcia Visser. Besoekers aan die aanlyn galery kan ook uitsien na die werke van Ayobola Kekere-ekun, Franklyn Dzingai en The Mapula Embroidery Project, onder vele andere.

Alle werke is inmekaargevleg met vanjaar se visuele kuns-tema, Ontrafel.

Alhoewel van die werke wat deel vorm van die virtuele galery reeds verkoop is, is daar werke wat steeds beskikbaar is vir voornemende kopers. Navrae oor kunswerke kan gerig word aan Van der Walt by dineke@vanderwalt.za.net.

Die KKNK word met trots geborg deur Absa, met ondersteuning vir die visuele kunsprogram van Business and Arts South Africa.

The post Persverklaring: KKNK 2022 visuele kunsuitstalling nou aanlyn beskikbaar appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 188